Car InsuranceVehicle

Lexus onthul RC 350 F SPORT by Geneefse Motorskou


• Lexus onthul F Sport*-weergawe van RC-koepee by 2014-Geneefse Motorskou

• Dinamiese opgradering vir meer lonende en meelewende bestuurservaring

• Selfs nog meer sportiewe en aggressiewe buitekant met verfynde binneruim-ontwerp
Lexus sal die F Sport*-weergawe van sy RC-koepee by die 2014-Geneefse Motorskou onthul.
Die gewone RC, wat aanvanklik by die 2013-Tokio-Motorskou onthul is, is ’n alleenstaande model eerder as ’n tweedeur-weergawe van ’n sedan. Hoewel die motor op die GS se platform geskoei is, verskil elke afmeting van dié van die GS- en IS-modelreekse.
Die F Sport-weergawe van die RC 350 pronk met visuele en dinamiese verbeterings teenoor dié van die gewone model.
Visuele verbeterings behels ’n unieke binne- en buitekant-stileringspakket, wat ’n rompstel, wiele, binneruim-instrumente, sitplekke en ander detail insluit.
Die F Sport se dinamiese verbeterings behels die voor- en agtervering wat eksklusief ingestel is, die beskikbaarheid van Lexus se aanpasbare veranderlike vering (Adaptive Variable Suspension – AVS) en Lexus se dinamiese hanteringstelsel (Lexus Dynamic Handling – LDH, wat dinamiese agterwielstuur insluit) en bestuurders van ’n selfs nog meer lonende en meelewende bestuurservaring voorsien.


Ontwerp
Die voorkant van die F Sport-modelle, wat deur ’n model-spesifieke sierrooster onderskei word, pronk met ’n verdere evolusie van die Lexus-uurglasrooster.
Die F Sport-modelreeks voeg model-spesifieke kentekens saam met ’n unieke 19”-F Sport-allooiwielontwerp met ’n masjienafgewerkte buitekantste tienspeek-laag wat bo-oor ’n binneste tienspeeklaag in ’n donker metaalvlokkie verf geplaas is.
Drie rompkleure – wit nova, oranje en vlamblou – is uniek aan die F Sport.
Die RC F Sport span ook LFA-agtige instrumente in met ’n verstelbare middelring en ’n F Sport-stuurwiel en -rathefboomknop.
Die F Sport se eksklusiewe binneruim-ontwerp word deur sogenaamde Wedge Metal-ornamente en ’n F Sport-eksklusiewe binneruimkleur wat Dark Rose genoem word, afgerond.

Rydinamika
Lexus se ingenieurs het die RC F Sport versigtig ten gunste van beter dinamiese verrigting ingestel.
Dié verbeterings aan die F Sport-model begin met die gebruik van aanpasbare veranderlike vering (AVS).
Die AVS, wat by die rymodus inskakel, reageer op die bestuurder se insette, voertuigrompbeweging en padoppervlaktoestande om die verrigting van die veerstelsel in al vier hoeke outomaties en onafhanklik te verstel ten einde die voertuig se dinamiese verrigting te vervolmaak.
Wanneer die voertuig se Sport+-modus ingespan word, word die AVS in SPORT-modus geskakel en laat dit die bestuurder beter rompbeheer en presiese reaksie op stuurinsette aan die hand van die hersiene kragstuurhulp ervaar.
Die verbeterings aan die veerstelsel van die RC 350 F Sport word deur die vierwielstuur van die LDH-stelsel aangevul.
Hierdie hipermoderne tegnologie sorg vir naatlose samewerking tussen die agterstuurstelsel (DRS), elektriese kragstuur (EPS) en veranderlike stuur-ratverhouding (VGRS).
Die stelsel bereken die volmaakte hoek vir al vier wiele deur die voertuigspoed, stuurrigting en bestuurderinsette te monitor.
Die stelsel, wat VGRS aan die voorkant en DRS agter inspan, kan die voorste en agterste wielstuurhoeke onafhanklik beheer deur indraaireaksie, agterwielklouvermoë, voertuigbeheer en algehele vlugvoetigheid in draaie te verbeter.
Lexus se unieke geïntegreerde voertuigdinamika-beheerstelsel koördineer LDH, die sluitwerende remstelsel, kloubeheer, voertuigstabiliteitsbeheer en aanpasbare veranderlike vering.
Die LDH-stelsel monitor die voertuig se spoed en stertswaaibeweging, stuurhoek en spoed, sowel as laterale swaartekrag om die nodige agterwielstuur-insette tot ’n hoogtepunt van 2,0 grade te bereken.
Die voor- en agterwiele draai teen laer snelhede in teenoorgestelde rigtings om beweegbaarheid te verbeter, en teen hoë snelhede in dieselfde rigting om groter stabiliteit te bied.

Lexus se dinamiese hantering-stelsel koördineer al die bostaande en vervolmaak die dinamiese en veiligheidstelsels om by die voertuigspoed en bestuurstyl te pas.


TEGNIESE SPESIFIKASIES*

RC 350
Lengte / mm 4 695
Hoogte / mm 1 395
Breedte / mm 1 840
Asafstand / mm 2 730
Sitplekke 4
Dryfwiele Agterwielaandrywing
Soort enjin 2 GR-FSE
Aantal silinders V6
Kraglewerring in kW teen r/min 234 @ 6 400
Wringkrag in Nm teen r/min 380 @ 4 800
Ratkas Outomatiese 8-gang
Vering Voor: Dubbelmikvering

Agter: Veelskakel

*Inligting gegrond op oorsese model voor die aanvang van vervaardiging. Voertuie met SA spesifikasie kan verskil en sal eers nader aan die bekendstellingsdatum bekragtig word (laaste deel van 2014).

Pin It on Pinterest